Saturday, June 12, 2010

Dag 2, Vryburg tot Francistown

Ons vertrek 07:00 vanaf Vryburg, dit reën ligweg. Hopenlik gaan ons vir die res van die vakansie lekker sonkyn geniet. Vanaand wil ons in Francistown by Woodlands stopover gaan slaap.

Ons eerste stop was by die Ramathlabama grenspos tussen Suid Afrika en Botswana. Dis die naaste grenspos aan Vryburg op ons roete na Zambië. Ons was maar bekommerd dat hulle ons vleis gaan afvat, ons het soveel moontlik vleis wat ons nodig het vir die vakansie, saamgebring. Uit ondervinding weet ons dat dieper in Afrika is daar nie alles wat ons soek nie, alhoewel daar groot Spars en Shoprites is. Sonder enige probleme is ons deur beide grensposte in minder as 1 uur.

Ons volgende stop was in Gabarone waar ons brandstof ingegooi het en ook nodige voorrade aangekoop het soos vars vrugte en drank. Ons ry toe aan die buitewyke verby Gabarone. In Botswana moet jy maar altyd versigtig wees vir spoedlokvalle, so ons hou maar by die spoedgrens.

Ons kom teen skemer in Francistown aan. Ons eerste stop was by Cresta Marang om te kyk of daar plek is, ons het nerens plek bespreek nie, so was nie seker of ons plek kon kry by Woodlands stopover nie. Dit was vol by Cresta Marang en nadat die manager Woodlands gebel het en vir ons plek in die Bushcamp kon kry het ons eers voertuie vol diesel gaan maak.
Ons kom toe teen donker by Woodlands aan en slaap kamp op in die Bushcamp. Die kamp is in die bosse reg langs die ander kampterrein. Ons mag darem van die geriewe gebruik het. Vanaand is die eerste wat almal in hulle tente gaan slaap. Dit sal vir Janine en Roxi 'n heel nuwe ondervinding wees en daar lê nog 28 nagte voor in die tent.

Woodlands stopover Bush camp, Francistown.