Sunday, June 20, 2010

Dag 10, Mfuwe tot Chipata

Vandag ry ons net tot by Chipata, so daar is geen haas nie, ons wil net die slegte stuk pad agter die rug kry. Ons gaan by Mama-Rulas bly. Die voetspore manne het daar voorheen gebly, dis hoe ek weet van die plek.

Net buite Mfuwe stop ons by die "Tribal Textiles" fabriekswinkel. Hier word eers aandenkings gekoop en toe gaan stap ons deur die fabriek waar verskeie artikels gemaak word. Dis baie mooi, maar waar gaan ons die pakplek kry. Malawi met sy hout kunswerke en Mosambiek lê nog voor.

Wat 'n piekniek plek is dit dan?
Hierdie een gaan ook nerens binnekort nie.
Die afdraai na Mama-Rulas
In Chipata ry ons reguit Mama-Rulas toe, ons het nie nou nodig om brandstof in te gooi nie, ons sal wag tot môre wanneer ons in Malawi is, dis baie goedkoper ook daar.

By Mama-Rulas kry ons lekker kampplek onder koelte bome. Ongelukkig was die krag af die middag, bleikbaar het Suid Afika alle moontlike elektrisiteit nodig gehad vir die sokker. Die Prado se battery monitor het los geskut, die pad was maar baie sleg, maar ek en Poen het dit sommer vinnig reggemaak. Daar is lekker groot netjiese was geriewe vir klomp mense, net jammer dat van die laat kommers daar reg voor die toilette gaan parkeer het.

Poen en Marianna het sommer ook die geleentheid gebruik om te kyk hoe lyk ons daktent van binne af, hulle wil ook een koop sodra hulle terug by die huis is.

Marianna toets ons daktent uit.
Dit gebeur as 'n mens te veel
voorraad opnames maak.
Die kroeg by Mama-Rulas.
Andrea van Mama-Rulas kry vir ons iemand wat ons Dollars in Malawi Kwacha's kan verruil, dan hoef ons nie die volgende dag in Lilongwe te gaan sukkel by 'n bank nie. Die persoon kom gereeld in Malawi en het 'n groot vervoer maatskappy. Hy gee sommer vir ons raad hoe om te ry Monkey Bay toe met die nuwe teerpad.