Tuesday, June 22, 2010

Dag 12, Senga Bay tot Nkopola

Vandag gaan ons ry tot by Nkopola via Monkey Bay. Ons wil sommer kyk hoe lyk die nuwe teerpad Monkey Bay toe. In die verlede moes ons 'n baie swak grondpad ry.

Ons ry 08:00 vanaf Senga Bay en stop by verskeie kunswerk stalletjies en koop baie items. Die vorige keer was die stalletjie by die Monkey Bay afdraai baie goed met mooi groot kunswerke, maar ek dink omdat die hoofpad nie meer daar loop nie, het dit baie verswak.

Ons ry tot by Toys R US waar ons vir hulle vra om vir ons bakkies te bou, ek sal dit oor 2 dae weer kom haal. Gelukkig bly ons vir die volgende 3 dae net so 40km daarvandaan. Ons moes deposito betaal sodat hulle die nodig materiaal kan gaan koop het. Die manne het sommer so tussen ons bakkies rondgeloop en gekyk wat ons alles op gehad het, met natuurlik 'n paar versoeke van ons kant ook.

By die afdraai na Cape McClear is daar ook 'n groot stalletjie, seker die beste plek vir houtkunswerke wat ons sover gekry het in Malawi se suide. Hier kyk ons net na wat daar was en bestel toe ook sommer 'n klomp naamborde wat ons toe ook oor 2 dae sou kom optel het. Ons gaan weer hier verby ry oppad na Nkopola toe, so die wat iets wil koop sal dan die geleentheid kry.

Ons ry toe verder na Cape McClear waar ons by Fat Monkeys gaan kyk hoe dit daar lyk en sommer middagete ook eet. Die plek is seker een van die bestes teen die meer, MAAR dis maar baie klein en heeltemal vol, seker omdat dit so gewild is.

Na middagete ry ons na Nkopola Lodge waar ons vir die volgende 3 nagte gaan bly. Op die pad soontoe begin Geno kla dat sy bakkie se "release bearing" raas. Dit het al hoe erger geword.

Terwyl ons in geboek het by die Nkopola Lodge het Poen rondgevra oor moontlike bootritte. Die persoon sou die volgende oggend na ons toe kom met die boot sodat ons darem kan sien hoe dit boot lyk en ook 'n prys vas maak. Ons wou baie graag gaan snorkel in die meer.

Nkopola Lodge campsite, Nkopola, Lake Malawi
Nkopola Lodge campsite, Nkopola, Lake Malawi
Die kampplek van Nkopola Lodge is so 1.5km vanaf die Lodge wat dit moeilik maak om die Lodge se fasiliteite maklik te gebruik. Die kampplek is baie groot met sy eie kroeg en teen die meer. Daar is lekker koelte bome met groot grasperke. Die ablusie geriewe is maar in 'n swak toestand. Die opsigter het vir ons een van die huise oopgesluit sodat ons krag kan kry, daar is nie gewone kragpunte vir kamppeerders nie.

Die aand besluit Geno dat hy die volgende dag maar 'n Isuzu garage moet gaan soek om te kyk na sy bakkie. Ons het maar almal jammer gevoel vir hom en net gehoop dat hy sy bakkie sou kon reg kry.