Thursday, June 17, 2010

Dag 7, Mfuwe

Zamibë parke se hektye soos seker meeste parke in Afrika geld vir 24 uur. So, as jy 9:00 die oggend ingaan by die hek, kan jy tot die volgende dag 9:00 die park permit gebruik, met aggenome dat die hek sekere tye oop en toe maak.

Ons gaan vanoggend rustig wees. Ons het die afgelope paar dae ver gery. Ons gaan eers so 11:00 se kant park toe. Ons wil eerder die middag laterig en die volgende oggend vroeg in die park wees. Ons maak lekker brekfis en sit sommer rustig teen die rivier. Na brekfis ry ek en Poen gou Mfuwe toe en laat maak sy pap band reg by een van die twee bandherstel plekke langs die pad. Alles word maar met die hand gedoen. Poen het darem sy pomp gebruik om die band op te pomp.

Ons ry so net na 10:00 na die South Luangwa Park hek, dis so 10km van ons kamp af. Hier koop ons toe permitte vir die park en vra sommer waar die leeus is. Toevallig het die leeus 'n buffel die vorige nag doodgemaak, baie naby die hek. Ons ry reguit na die plek wat die persoon by die hek vir ons op hulle kaart gewys het.

Daar was so 15 leeus besig om hulle trommel dik te vreet aan die buffel. Daar was nog redelik baie oor van die buffel en so die leeus redelik lank besig hou. Ons was die enigste voertuie daar by die leeus wat die nogal lekker gemaak het. Uit ondervinding weet ek dat daar waar leeus is, is daar gewoontlik 'n vertrapping van voertuie.
Leeus besig om aan 'n buffel te vreet.
Kyk net daardie tande.
Die aasvoels was reg om alle oorskiet te eet.
So moet 'n leeu se maag mos vol wees.
Kyk daardie bloederige bek.
Die res van die dag het ons maar die park verken. Daar is baie groen rivierlope wat nie lopende water het nie, waarin mens kan afry. Daar is verskrilklik baie Puku's en ander klein bok soorte en ook redelike voël lewe. Op sommige plekke in die rivier is daar groot troppe seekoeie. Ons sien maar min olifante en slegs een groot trop buffels.

Nadat ons alles klaar gaan kyk het, ry ons toe weer terug na die leeus toe. Hier was nog steeds 'n paar leeus besig om aan die laaste bene te kou. Die kop van die buffel was seker te hard of daar was te min vleis aan. Die aasvoëls was nou sommer baie. Daar was nou meer voertuie en die leeus het nou tussen die voertuie begin rondlê, trommeldik gevreet.

Toe ons terug kom by die kamp, het die mense wat op die rivier bank gekamp het, hulle kamp afgebreek. Ons skuif toe ons tente tot reg op die bank, ons wou so na as moontlik aan die rivier wees.

No comments:

Post a Comment