Friday, June 11, 2010

Dag 1, Stellenbosch tot Vryburg

Ons vertrek 04:00 vanaf 'n sopnat Stellenbosch. Ons afstand wat ons moet ry vandag is 1100km en ons behoort teen 19:00 in Vryburg te wees, stoppe ingereken. Ons planne is om mekaar 04:30 almal voor die tonnel te kry. Janine en Roxi kom saam met Poen hulle tot by die tonnel en klim dan in Geno se Suzie. Ons eerste stop was by Laingsburg vir bene rek en brandstof ingooi.

Daarna pak ons toe die eentonige stuk aan tussen Laingsburg en Beaufort Wes. Dis die eerste keer sedert ons saam met Poen hulle vakansie hou dat ons hierdie pad as families saam moes ry. Ons stop by die laaste garage in Beaufort Wes net voor jy die dorp uit ry. Dit gaan maar swaar met die ryery, ons sal gou gewoon moet raak daaraan, ons gaan die vakansie nog ver ry. Gelukkig het hulle op verskeie plekke gewerk aan die pad Kimberley toe, wat darem vir ons weer die kans gegee het om bene te rek.
Besig om bene te rek op die pad na Kimberley
Ons stop in Kimberley en gooi brandstof in, ons planne is om met die brandstof dan te kan ry tot in Botswana. Daar sal ons dan eers weer volmaak. Die prys van brandstof is darem bietjie goedkoper daar.
Op die pad na Vryburg luister almal van ons met groot opgewondenheid na die Bafana Bafana - Mexico sokker wedskryd. Dit eindig toe na groot spanning 1-1. Dit was heeltemal teen die verwagting in, niemand het Bafana Bafana 'n kans gegee nie. Ons is ook nie groot sokker ondersteuners nie, maar hierdie was darem 'n spesiale geleentheid. Ons kom 19:00 in Vryburg aan en ry direk na Die Kliphuisie waar ons oorbly vir die nag. Ons wou nie tente opslaan nie, die sou te koud wees en ons het geweet ons sou laat daar aankom, dis nie 'n plesier om tente in donkerte op te slaan nie. Nadat ons ingeboek het gaan koop die mans wegneem etes by Kentucky.
Die aand slaap ek, Poen en Geno in 'n kamer. Poen het my en die res van die groep gewaarsku dat Geno maar redelik snork. Gelukkig was ons daardie aand almal te moeg en het lekker geslaap.

No comments:

Post a Comment