Thursday, June 24, 2010

Dag 14, Nkopola

Vandag is die Marianna se verjaarsdag en gaan ons op die meer met een van die Lodge se bote na 'n eiland om bietjie te snorkel. Poen gaan die skipper wees. Ons pak vir ons koeldranke en eetgoed en gaan klim toe op die boot.
Is daar plek vir almal?
Janine, Roxi en Yvette
Daar gaan ons, die water is maar plat.
Ons vaar met die houtboot saam met die deinings na 'n eiland rofweg so 10km vanaf ons kampplek. Die deinings is gelukkig nie te hoog met die gaan nie, maar sal 'n ander perd wees wanneer ons terug kom. Gelukkig is die water darem nie te koud nie.
Kyk ons skipper.
Almal in die water opsoek na tropiese visse.
By die eiland aangekom was daar 'n klomp visarende en kolmorante. Die man van die lodge het 'n dooie vis in die meer gegooi met die hoop dat een van die visarende die vis sou kom vang, maar niks het gebeur nie. Ons almal het toe beurte gemaak om bietjie te snorkel. Dit het maar al spartelend gegaan. Vir van die mense was dit 'n nuwe ervaring. Alles lyk mos groter onder die water. Hierdie was ook 'n ideale geleentheid om gewoon te raak aan die bril en snorkel duik, wanneer ons by die see gaan wees, moet ons die duik geleentheid gebruik en nie nog oefen nie.

Ons het fotos geneem en teryl ek nog so op die klippe loop gly ek en val met my voet in een van die skeure. My voet was onder velaf en het gebloei, gelukkig darem nie te erg nie. Maar dit sou beteken dat ek vir die res van die vakansie versigtig sal moet trap op my voet. Dit het darem gelyk asof daar niks gebreek was nie.

Poen en Yvette.
Cecile in die water, wonder wat sy maak?
Nadat almal klaar geduik het en iets ge-eet en gedrink het keer ons terug met die boot. Hierdie keer was ons teen die wind, met die deinings redelik hoër. Die water slaan toe gereeld oor die boeg van die boot. Die meeste van ons was sopnat. Oppad terug moes ons eers vir Cecile stop, sy kon nie meer haar noot hou nie, en gaan doen haar ding toe maar in die meer. Sies, ek wonder wat die barskaal toe sou sê.

Terug by die kamp het ons lekker gaan stort en net rustig rongesit. Later die middag het Poen 'n koek gebak in die swart pot. Die koek eet op Marianna se verjaarsdag het nou al 'n tradisie geword. Terwyl Yvette en Marianna 'n ogie oor die koek gehou het, ry ons terug Monkey Bay toe om ons karre en ander goed wat ons bestel het te gaan haal. Gelukkig was alles darem al klaar gemaak.

Die aand donker kom Geno terug vanaf Blantyre. Gelukkig is sy bakkie nou herstel, maar dit moes 'n paar Rand gekos het om reg te maak. Ons was maar almal bly en verlig dat hy darem weer deel van ons was. Vanaand was ons laaste aan in Malawi, môreoggend vroeg ry ons na Mosambiek wat vir van ons 'n onbekende is. So, die weer vroeg opstaan, daar wag 'n lang grondpad voor.

No comments:

Post a Comment