Sunday, June 13, 2010

Dag 3, Francistown tot Livingstone

Vandag ry ons tot by Livingstone en sal graag by Maramba Riverlodge wil gaan bly. Dis nie sover Livingstone toe nie, maar hulle werk aan die pad tussen Nata en Kasane en dan is daar nog die grenspos en pont by Kazangula wat voorlê.

Die pad ry sommer lekker tot by Nata, maar daarvandaan is daar maar redelik baie slaggate en dan is daar ook stukke wat verlê is. Toe ons 3 jaar gelede die pad gery het was dit al vol slaggate, dinge gebeur maar stadig in Afrika.

Ons kom net na middagete in Kazangula aan, daar is geen brandstof nie. Ons ry toe die paar kilometer in na Kasane en gaan maak daar vol met brandstof. Ook goed so, want toe kon ons sien hoe vol die rivier is. Laasjaar was die rivier se vlak hoog, maar vanjaar is dit nog hoër. By die Botswana grenspos is ons vinnig deur, natuurlik met die regte dokumentasie gaan alles vinnig. Daar was 'n baie lang ry vragmotors wat gewag het die vir pont, maar ons ry net verby hulle. Afhangende met watter pont jy oor die rivier gaan, word daar dan besluit hoeveel groot vragmotors gelaai mag word. Dis gewoontlik 1 groot vragmotor en dan 4 tot 5 kleiner bakkies en motors. Poen was agter in die ry van ons 3 voertuie, toe laai hulle vir ons en Geno hulle op. Gelukkig het ons darem radio kommunikasie gehad tussen die voertuie. Aan die Botswana kant het ons kontak gemaak met een van die locals wat ons sy dienste aangebied het om deur die Zambiese grenspos te kom. Hulle neem jou na alle punte en betaal alles vir jou by die grenspos, dan moet hulle weer betaal word in Dollars of Rand teen 'n wisselkoers wat voor die tyd besluit is op. Ek het voor die tyd alle lande wat ons sou besoek het sy Rand en Dollar wisselkoerse uitgedruk, so ons het darem geweet wat om te verwag. Die mense wou nie ons derdeparty versekering wat ons vir Zambië, die COMESA, by AA gekry het aanvaar nie, toe betaal ons weer, gelukkig nie te baie geld nie.

Na sowat 45 minute is almal van ons deur die grens en oppad Livingstone toe. Ons stop toe teen die pad om net bene te rek, toe kom Yvette agter dat sy nie my paspoort sien nie, sy is in beheer van logistiek in die motor. Na ons rondgeskarrel het en niks gekry het nie, jaag ek en Poen terug grenspos toe met die hoop om die paspoort te kry. Terwyl ek by die derdeparty kantoor rondvra roep Poen my dat hy met groot verligting aan my kant die paspoort gekry het, dit het teen die sitplek afgeval en onder die sitplek gelê. 'n Paspoort was weg is sou groot drama veroorsaak het en kon ons vakansie sommer ontsier het. Gelukkig het ons darem van alle belangrike dokumente afskrifte gemaak en in die ander voertuig as jou eie gehou saam met jou spaar sleutels.

Ons kom so skemer se kant in Livingstone aan. Weereens soos die vorige vakansie het Maramba Riverlodge nie plek nie. Ons ry toe na die Waterfront kampplek toe, hulle was ook vol. Voorheen het ons by Livingstone Safari lodge gebly, maar hulle is bietjie ver van die rivier af en dit raas ook maak daar. Poen ry toe na die Bushfront campsite, 'n nuwe plek wat ons glad nie geken het nie. Ek is weer Livingstone Safari Lodge toe, hulle het plek gehad maar dit was maar verwaarloos. Gelukkig laat weet Poen toe op die radio dat hulle vir ons plek gemaak het op die grasperk tussen die rondawels.

No comments:

Post a Comment